|
|
|
|
Stellenbosch
Universiteit Biblioteekdiens
|
|
Leeskamer na BiblioteekdiensVroeë jare Die oorsprong van die Universiteit Stellenbosch dateer terug na die Stellenbosch Gimnasium wat in 1866 gestig is. In 1874 het die Gimnasium 'n eie professorale afdeling gestig, nl. die Lettere Departement, wat gelei het tot die stigting van die Stellenbosch Kollege in 1881. Die Kollege se naam is verander na die Victoria Kollege van Stellenbosch in 1887, die jubileumjaar van Koningin Victoria se bewind, en op 2 April 1918 is die Universiteitswet, wat die Victoria Kollege vervang het met die Universiteit Stellenbosch, bekragtig. In 1895 verskyn 'n kennisgewing in die Kalender van die Victoria Kollege wat lui "die Kollege het 'n lees- en naslaanbiblioteek vir gebruik deur studente en in die afgelope jaar is 'n addisionele kamer gereserveer as die leeskamer". Hierdie leeskamer was in die Ou Hoofgebou geleë en die materiaal wat daar beskikbaar was, was afkomstig van die versamelings van die Stellenbosch Gimnasium, die Lettere Departement van die Gimnasium en die Stellenbosch Kollege, later bekend as die Victoria Kollege. Gedurende die eerste paar jare van sy bestaan het die Victoria Kollege 'n klein versameling boeke besit, wat eenvoudig onvoldoende en onvanpas was vir 'n akademiese instelling. Prof. William Thomson het hieroor in 1893 opgemerk: "Dit verg 'n baie praktiese verbeelding om die klein boekrakkie in die Raadsaal 'n biblioteek te noem. Dit is nie baie inspirerend om te sien hoe studente wag vir die volgende voeding deur die professionele voedingsbottel in plaas daarvan om gewoontes van onafhanklike studie en navorsing in a goedtoegeruste biblioteek te kultiveer nie". Dit was heel moontlik hierdie frustrasie wat veroorsaak het dat twee studente, JBM Hertzog en W Neethling, in 1888 die Senaat gaan spreek het om te vra vir die voorsiening van gepaste huisvesting vir die bestaande versameling. Studente het gretig belangstelling getoon om verwysingsmateriaal te voorsien en die biblioteek te organiseer en toesig te hou. Hulle het ook geld ingesamel om vir tydskrifte in te skryf. Die Junior Debatsvereniging, die Victoria Kollege Vrywilligerskorps en die Kadette het ook betrokke geraak en dit het gelei tot die vestiging van 'n "lees- en naslaanbiblioteek” in 1895, soos aangedui in die Kalender. Die eerste biblioteekgebou Teen die einde van die eeu, het die stigting van 'n "kollege biblioteek en -museum" egter noodsaaklik geword. Te danke aan 'n ruim donasie van 'n weldoener van Stellenbosch, mnr. CL Marais en bydraes van die Stellenbosch Distriksbank en die Koloniale Regering, het die oprigting van 'n biblioteekgebou aan die noordelike kant van Kollege Plein in 1900 begin, en dit is in 1901 voltooi. Die sierlike nuwe gebou is vernoem na mnr. CL Marais en was die eerste gebou in die geskiedenis van die Universiteit wat vir hierdie spesifieke doel gebou is. Dit het egter ook die administratiewe kantore van die Victoria Kollege vir ongeveer 20 jaar gehuisves, en sommige vertrekke in die gebou is gebruik as Raadsale en Senaatskomiteekamers. Mnr JH Rose was die eerste bibliotekaris. Hy was ook die opsigter van die Kollegeterrein. Teen 1904 het die biblioteek 1 000 boeke besit. In hierdie jaar is die bestuur van die biblioteek oorgedra vanaf die Raad na die Senaat, en 'n staande biblioteekkomitee is aangewys deur die Senaat, 'n praktyk wat tot vandag toe volgehou word. Met die stigting van die Universiteit Stellenbosch in 1918, het die CL Marais Biblioteek voortgegaan met sy belangrike taak. In ongeveer 1920 het die administratiewe kantore van die Universiteit na 'n ander perseel geskuif. Mnr. GV (George) Marais is in 1926 aangewys as Bibliotekaris en was Hoofbibliotekaris tot 1967, 'n tydperk van 42 jaar. Ten spyte van 'n tekort aan personeel in die beginjare, het die biblioteek 'n uitstekende diens gelewer en in 1928 het die Universiteitskommissie gerapporteer dat die "biblioteek beskou kan word as 'n model en inspirasie vir ander instansies". 'n Nuwe denkrigting In 1926 moes die CL Marais Biblioteek uitgebrei word en teen 1938 het dit duidelik geword dat 'n algehele nuwe denkrigting nodig was. In 1912 het die Skots-Amerikaanse miljoenêr Andrew Carnegie £6 000 geskenk vir die uitbreiding en instandhouding van die biblioteek van die Victoria Kollege. 'n Addisionele donasie van £1 500 van die Carnegie Corporation aan die Universiteit Stellenbosch in 1938, asook bydraes van alumni, het die Universiteit in staat gestel om 'n nuwe biblioteek te bou. In 1938 is die Carnegie-gebou opgerig op die Pavillion-rugbyvelde, aangrensend aan en noord van die huidige Administrasiegebou (Blok B). Hierdie gebou het die tuiste van die Universiteitsbiblioteek vir die volgende 50 jaar geword. Na die skuif na die Carnegie Biblioteek is addisionele personeellede aangestel en teen 1945 het die biblioteekvoorraad verhoog na 97 167 volumes. Ten tye van die aftrede van mnr. Marais in 1967 was daar 45 personeellede en was die biblioteekdiens goed gevestig. In 1967 is mnr. Francois du Plessis, wat in 1945 by die biblioteekpersoneel aangesluit het, aangewys as Universiteitsbibliotekaris. Danksy sy professionele en akademiese vaardighede, sy liefde vir boeke en sy kennis van die boekbedryf, kon mnr. du Plessis die Universiteitsbiblioteek tot 'n onmisbare bron van inligting ontwikkel. Die Biblioteek gaan ondergronds Voor sy aftrede in 1983 was mnr. du Plessis ook aktief betrokke by die beplanning van die volgende (die huidige) fase van die Universiteitsbiblioteek, naamlik die oprigting van die JS Gericke Biblioteek, vernoem na dominee JS (Kosie) Gericke, Visekansellier van die Universiteit van 1952 tot 1981. Die bouwerk aan die JS Gericke Biblioteekgebou het in 1981 begin, en in 1983 het die skuif na die nuwe gebou plaasgevind. Hierdie gebou is op 'n unieke plek geleë - onder die sentrale Jan Marais Plein. Tydens die beplanning van 'n nuwe biblioteek is gevind dat, afgesien van die Jan Marais Plein, geen sentraal geleë boupersele op kampus beskibaar was nie. Die historiese belang van die Jan Marais Plein en die boukundige estetika van die historiese geboue rondom die plein, het egter beteken dat hierdie terrein nie ontsier kon word met 'n verdiepinggebou nie. Gevolglik is daar besluit om ondergronds te bou. Die JS Gericke Biblioteek kan ongeveer een miljoen volumes akkommodeer. Daar is ook 1400 studiesitplekke, 10 seminaarkamers, 27 studiehokkies en 'n goed toegeruste lesingsaal met 146 sitplekke. In die middel tagtigerjare is op 'n nuwe gemeenskaplike naam vir die JS Gericke Biblioteek, die ses tak- en satellietbiblioteke en die verskeie departementele versamelings besluit, naamlik die Universiteit Stellenbosch Biblioteekdiens. Prof. JH (Hennie) Viljoen is in 1984 as Direkteur van die Biblioteekdiens aangestel, na die aftrede van mnr. du Plessis. In 1987 het prof. Viljoen professorale status ontvang op grond van sy deeltydse onderrigsposisie by die Departement Inligtingswetenskap, en in 1993 is sy posisie as Direkteur van die Biblioteekdiens verhoog na Senior Direkteur. Onder sy leierskap het die Biblioteekdiens gegroei tot 120 voltydse personeellede en verskeie mylpale is bereik: onder andere die instelling van dienste in die nuwe JS Gericke Biblioteek; die rekenarisering van die Biblioteekdiens; die instelling van 'n beleid oor die ontwikkeling van die biblioteekversameling en 'n formule vir die toewysing van fondse; die instelling van 'n suksesvolle kommersiële inligtingsdiens (Infobank); 'n prestasiegebaseerde evaluasiestelsel vir personeel; en 'n formele ooreenkoms tot streeksamewerking tussen die vyf tersiêre instellings in die Wes-Kaap (CALICO). Onder die direkteurskap van prof. Viljoen het die Biblioteekdiens die elektroniese inligtingsera met erns betree en het dit op die voorpunt van ontwikkelings in hierdie veranderende omgewing gebly. Die tak- en satellietbiblioteke Die Teologie Biblioteek, voorheen bekend as die Kweekskoolbiblioteek, is die oudste takbiblioteek, asook die oudste biblioteek op kampus. Sedert die stigting in 1859 was die Teologie Kweekskool gelukkig genoeg om waardevolle boekskenkings van 'n verskeidenheid hoogaangeskrewe teoloë, predikante van die Kerk en lede van die publiek te ontvang. Die Kerk het van die begin af ondersteuning aan die Kweekskool gegee en selfs voor die Kweekskool gestig is, was die Sinode van voorneme om geld in te samel vir die stigting van 'n biblioteek. Hierdie ondersteuning duur vandag steeds voort. In 1963 is die Teologie Kweekskool opgeneem in die Universiteit Stellenbosch as die Fakulteit Teologie. Met hierdie samesmelting het die destydse Universiteitsbiblioteek 'n groot versameling waardevolle teologiese literatuur bekom, wat die basis gevorm het vir die huidige Teologiebiblioteek. Die wye spektrum wat gedek word in die versameling wat oor 'n tydperk van meer as 100 jaar opgebou is, dra grootliks by tot die kwaliteit van die diens wat aan kliënte gebied word. Gedurende die middelnegentigerjare het dit duidelik geword dat die toenemende gebruik van die Teologiebiblioteek en die groeiende versameling 'n herbeplanning van die biblioteek noodsaak. Verbouing aan die biblioteek het in 1997 begin, en is in 1998 voltooi. Die beskikbare ruimte is gewysig om 'n nuwe ingang met 'n verklikkerstelsel, 'n aparte studiekamer vir studente, ruimte vir fotokopieerfasiliteite in die biblioteek en 'n nuwe personeelkamer te voorsien. Musiekonderrig in Stellenbosch het sterk vooruitgang getoon in die laaste deel van die negentiende eeu en in 1900 is besluit om 'n sentrale musiekskool te stig. Dit het gelei tot die stigting van die “South African Conservatorium of Music" 1905, die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Die aanvanklike klein versameling boeke het eers 'n biblioteek geword toe die Konservatorium opgeneem is in die Universiteit Stellenbosch en 'n departement van die Kunste Fakulteit geword het in 1934. Aanvanklik het die biblioteek slegs 'n paar rakke in die kantoor van die hoof van die Konservatorium, prof. Maria Fismer, beslaan. Later is 'n aparte lokaal beskibaar gestel om die groeiende versameling te huisves, wat bestaan het uit 'n aantal 78-spoed grammofoonplate, 'n boekkatalogus en omtrent 200 boeke geskenk aan die Universiteit deur die Carnegie Corporation van New York. Tussen 1961 en 1964 is die eerste twee personeellede aangestel, en het die taak begin om orde te skep in die huidige versameling asook die talryke bemakings. Sedertdien het die Musiekbiblioteek ontwikkel in een van die grootste akademiese musiekbiblioteke in die land, met 'n goed ontwikkelde versameling verskeie gedrukte en oudiovisuele media in die vakgebied. Die ou Konservatoriumgebou, steeds geleë in Van Riebeeckstraat, is deur die Departement Musiek gebruik tot einde 1977. In 1978 het die Departement en die Musiekbiblioteek verskuif na 'n nuwe gebou in Victoriastraat. In 1999, na 21 jaar op die nuwe perseel, het die toenemende gebruik van die biblioteek, die groeiende versameling en veranderinge in die funksies en kliëntedienste die herbeplanning van die biblioteek genoodsaak. Strukturele veranderinge, soos onder andere addisionele kantore vir personeellede en 'n nuwe area vir die biblioteek se spesiale versameling, is vroeg in 2000 voltooi. Gesondheidswetenskappe Biblioteek Die Gesondheidswetenskappe Biblioteek, voorheen bekend as die Mediese Biblioteek en die Tygerbergkampusbiblioteek, het in 1957 ontstaan met 'n beskeie versameling van ongeveer 3000 boeke en gebonde tydskrifte asook 200 aktuele tydskriftitels. Dit was geleë in 'n paar klein agterkamertjies van die Karl Bremer Hospitaal in Bellville. Met die stigting van die Fakulteite Geneeskunde en Tandheelkunde (nou bekend as die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe), asook die Universiteit se onderrighospitaal in Tygerberg, is die biblioteek ook verskuif na die Tygerbergkampus. Oor die jare het die biblioteek verskeie transformasies ondergaan en verskeie kere van perseel verander. Sedert 1987 het die herbeplanning van beskikbare ruimte gelei tot maksimum benutting van gebruikers- en kantoorareas. Inligtingsdienste aan onderrigpersoneel en studente is aansienlik uitgebrei. Die bilioteekversameling bestaan tans uit meer as 53 000 gedrukte volumes, 700 aktuele tydskriftitels en 'n groot verskeidenheid oudiovisuele en elektroniese bronne. Bellvilleparkkampus Inligtingsentrum (USBI) Sedert die stigting van die Nagraadse Bestuurskool is 'n biblioteek as 'n groot prioriteit beskou. In 1964 is 'n aantal boeke aangekoop met fondse wat deur skenkings beskikbaar gestel is. Die eerste werklike biblioteek is egter eers in 1972 gestig, toe die Bestuurskool persele in Skuilhoek, Victoriastraat, op die Stellenboschkampus beset het. In dieselfde jaar is besluit om die Bestuurskool na Bellville te verskuif. 'n Paar ou opslaangeboue wat ontruim is deur die Mediese Fakulteit en geleë was agter die Karl Bremer Hospitaal het die nuwe tuiste van die Bestuurskool en sy biblioteek geword. In 1975 het die biblioteek amptelik 'n satellietbiblioteek van die destydse Universiteitsbiblioteek geword, en 'n aansienlike aantal boeke oor besigheidsbestuur is na Bellville oorgedra. In 1986 het die Bestuurskool na die huidige perseel verskuif, en in 1992 het die Nagraadse Bestuurskoolbiblioteek, soos dit toe bekend gestaan het, 'n volledige takbiblioteek van die Universiteit Stellenbosch Biblioteekdiens geword. In 1996 het die biblioteek van die destydse Buitemuurse Afdeling van die Universiteit (tans die Departement van Deeltydse Studies) saamgesmelt met die Nagraadse Bestuurskoolbiblioteek. Hierdie saamgevoegde biblioteek het bekend gestaan as die Bellvilleparkkampusbiblioteek. Sedert die inhuldiging van die nuwe fasiliteit, Bellvilleparkkampus Inligtingsentrum (USBI), in Mei 2002, kan gebruikers nou toegang verkry tot die dienste van 'n moderne leer- en inligtinsentrum, wat aan die hoogste internasionale standaard in informasiedienste voldoen. USBI is geskep as 'n meerdoelige eenstop inligting- en diensfasiliteit waar kliënte skootrekenaars kan huur, koerierdienste reël, fotokopieë kan maak, fakse kan stuur, artikels op diskette kan skandeer, voorgeskrewe handboeke kan kry en die bibliotekarisse kan raadpleeg. USBI is ontwerp en toegerus vir volledige digitale aflewering in die toekoms. Ingenieursbiblioteek- en Bosboubiblioteek Die Fakulteit Ingenieurswese is in 1944 gestig en was die eerste van sy soort by 'n Afrikaanse universiteit. Die oprigting van die huidige gebou van die Fakulteit het in die sestigerjare begin, maar is eers in 1979 voltooi, en, weens finansiële beperkings, is daar nie voorsiening gemaak vir 'n biblioteek nie. Die ingenieursversameling was gevolglik op daardie stadium steeds in die sentrale biblioteek gehuisves. Die behoefte aan biblioteekfasiliteite op die Fakulteit se perseel het groter geword en in 1976 is besluit om 'n biblioteekdiens te voorsien vir die eksklusiewe gebruik deur ingenieursdosente en -studente op die derde vloer van die Rekenaarsentrum van die Fakulteit. Sedert 1980 het die Ingenieursbiblioteek vinnig gegroei. Teen 1981 was daar 'n tekort aan ruimte, en 'n kamer is in die Siviele Ingenieursgebou beskikbaar gestel. In 1992 is die biblioteek verder uitgebrei om die vinnig groeiende versameling en die toenemende gebruik van die fasiliteite te akkommodeer. Verskeie uitbreidings en verbouings het oor die jare heen plaasgevind. In 1950 het prof. CL Wicht, destydse hoof van die Instituut van Bosbou- en Houttegnologie, 'n versoek aan die Universiteitsowerhede gerig vir die oordrag van die versameling boeke wat handel oor bosbou vanaf die Universiteitsbiblioteek na die Instituut. In dieselfde jaar is 'n som geld toegeken om gebruik te word vir die aanskaf van 'n aantal waardevolle boeke vanuit die biblioteek van wyle prof. EJ Neethling (hoof van die Instituut van 1932 tot 1949), na wie die destydse Bosboubiblioteek vernoem is. In 1960 is die Fakulteit Bosbou gestig. Sedert die fakulteit se ontstaan is die grootste pamfletversameling, bestaande uit ongeveer 60 000 items (die grootste in Afrika, en heel moontlik in die suidelike halfrond) in die biblioteek versamel. Hierdie versameling word deurlopend uitgebrei. In 1989 het 'n bekende houtfirma, Hunt, Leuchars en Hepburn, 'n aansienlike bedrag geld beskikbaar gestel vir die aankoop van rekenaartoerusting en vir 'n addisionele personeellid wie se taak dit was om die pamfletversameling op 'n databasis te plaas. In 1992 het die Bosboubiblioteek 'n satelliet-biblioteek van die Universiteit Stellenbosch Biblioteekdiens geword en vir die eerste keer sedert die ontstaan van die biblioteek het die personeellede volle lede van die Biblioteekdienspersoneel geword. In die begin van 1999 is die biblioteek aansienlik uitgebrei deur die byvoeging van 'n tweede verdieping. in 2002 het die Departemente Bos-, Houtkunde en Bewaringsekologie deel geword van die Fakulteit Agriwetenskappe, Dept Bewaringsekologie het na 'n ander gebou geskuif en studentegetalle het gedaal. Hierdie was alles bydraende faktore tot die besluit om die Bosboubiblioteek saam te smelt met die Ingenieursbiblioteek. Tydens verbouings laat in 2005 is twee aangrensende klaskamers gevoeg by die bestaande ruimte van die Ingenieursbiblioteek. In Maart 2006 is die gesamentlike Ingenieurs- en Bosboubiblioteek ingewy.
|
|
© 2003 Universiteit Stellenbosch Biblioteekdiens / 2013/02/01 opgedateer |